Wees ‘n seën vir ander

Jy moet jou naaste liefhê soos jouself (Matt. 22:39)

Ons loop almal gevaar om selfgesentreerd te raak.  Indien jy ‘n vervulde, vrye en bevredigende lewe wil lei, het jy mense rondom jou nodig.  Mense wat jy kan liefhê en dien.  Dit is slegs deur liefdevolle diens dat jy kan groei tot geestelike en verstandelike volwassenheid.  Jesus het hierdie feit beklemtoon toe Hy gesê het:  “…(W)ie sy lewe wil behou, sal dit verloor, maar wie sy lewe ter wille van My verloor, sal dit terugkry” (Matt. 16:25).  Leef om vir ander mense tot seën te wees en jy sal in verwondering staan oor die kwaliteit van lewe wat jy ontdek.

As jy betekenis en doel in jou lewe wil hê, is dit noodsaaklik dat jy jouself verloor in ‘n saak wat groter is as jyself.  Dit is op hierdie bestaansvlak wat Jesus Christus Hom openbaar as die volmaakte inspirasie van mense soos ek en jy.  Hy het gesê:  “Bly in My en Ek in julle…”  Versterk deur hierdie wisselwerking van krag is ons in staat om ons vyande lief te hê, om hulle te seën wat ons vervloek, om goed te doen aan hulle wat ons haat en om te bid vir hulle wat vals teen ons getuig en ons vervolg.  Om so in die krag van die Here vir ander tot seën te wees is om die lewe op sy hoogste vlak te ervaar.

– Solly Ozrovech

Leave a comment