| Israelse argeoloë het Dinsdag tientalle nuut ontdekte Bybelse rolfragmente onthul wat na raming sowat 2 000 jaar oud is. Die perkamentfragmente wissel van net ‘n paar millimeter tot die grootte van ‘n vingernael (foto bo). Die Israelse Oudhedeowerheid (IAA) vertel dat dit die eerste keer in nagenoeg sestig jaar is wat argeologiese opgrawings in die Judese woestyn stukke van ‘n Bybelse rol oplewer. Die vondste is die gevolg van ‘n opmeting wat oor ‘n gebied van 80 km oor die klowe van die woestyn tussen die suide van Israel en die Wesoewer gedoen is. Hommeltuie, bergklim- en abseiltoerusting was nodig vir die argeoloë om die grotte te deursoek wat volgens hulle gebruik is deur Jode wat in die mislukte Bar Kochba-opstand teen die Romeine gerebelleer het. “Die woestynspan het buitengewone moed, toewyding en doelgerigtheid getoon en was bereid om af te sak tot grotte tussen hemel en aarde om die ontdekking te maak,” het Israel Hasson, direkteur van die IAA, gesê. Die stukkies van die rol sluit Griekse gedeeltes van verse uit die Bybelse boeke Sagaria en Nahum in. Afgesien van die naam van God, wat in Hebreeus verskyn, is die nuwe boekrolfragmente volledig in Grieks geskryf. Geleerdes sê die vonds werp lig op die evolusie van Bybelse tekste vanaf hul vroegste vorms. Kenners het daarin geslaag om elf reëls van die teks te rekonstrueer: “Dit is die dinge wat julle moet doen: Spreek die waarheid met mekaar; beoefen waarheid en ‘n regspraak van vrede in julle poorte.” Die owerheid berig dat argeoloë na jarelange uitgrawings in dié grotte en klowe ook ‘n handvol skaars munte, die geraamte van ‘n kind wat sowat ses millenniums oud is, asook die oudste mandjie ter wêreld (ouer as 10 000 jaar) ontdek het. Lees meer oor die ontdekking hier of kyk die video onder. – Kaapkerk |
2000 Jaar oue Bybelse boekrol ontdek