Maandblad – Mei 2023

‘n Briefie aan jou:

Kind van My hart, vir jou roep Ek al van eeue gelede met die “op die man af” opdrag ………… volg My.

Met hierdie woorde het Ek ook bedoel …. “net soos jy is”. Ek het beslis nie by hierdie woorde gevoeg, nadat jy genoeg geld gemaak het nie. Ek het ook nie gesê nadat jy ge-studeer het of ‘n domenee geword het of ‘n pastoor of miskien ‘n dokter of dalk dat jy eers moet mondig word nie. Met hierdie woorde bedoel Ek dat jou lewe net soos Jesus sin vol volharding en ja ……….. opoffering sal verg, want dit beteken dat jy moet opstaan en My volg.

Wat Ek het nie met hierdie opdrag bedoel het, is dat jy nie die voetmat vir ander moet wees en toelaat dat ander se hake en voete gedurig op jou gedraai word nie. Dit is een ding om jou aan sadisme en boelies te onderwerp, of jou lewe oomblik vir oomblik op te offer as liefdevolle offergawe aan My.

Saul het probeer om Dawid met ‘n spies te deurboor. Hy het nie stil gestaan nie. Hy het dit vermy.

Jesus het nie toegegee aan die woedende skare, ………….. hoor mooi skare,  wat hom wou gryp en iets aandoen nie. Gaan lees dit weer en sien daar staan ook geskrywe “Hy het tussen hulle deurgeloop en op sy weg gegaan”  Dit vat darem moed om sommer so deur die skare te stap dink jy nie so nie. Hoe het Hy dit reggekry? …… Jou Here het homself aan My onderwerp. Hy het op My vertrou. Met My vinger het ek vir hom ‘n pad gemaak tussen die skare, ‘n skare met moord in hulle harte. Met dieselfde vinger het ek die Rooisee oopgekloof en ‘n pad gemaak dat my volk, …………. Die volk wat homself aan My offer, oomblik vir oomblik veilg kon deurtrek. 

Sal jy kies om my te vertrou? Onthou vertroue soos enige ander handeling is ‘n keuse! En terwyl jy besig is om keuses te maak, waarom besluit jy nie sommer om hierdie een ook te maak nie – kies om jouself te vergewe. Self toegediende straf kan nie die verlede verander nie en spyt ………. het geen waarde nie!!!!!!!!! Vergifnis het waarde, en verlossing, vry van gister vir ewig.

My kind jy kan My vertrou om jou met die krag van Dawid, Petrus, Paulus en ja ………… dieselfde krag wat ek jou Verlosser Jesus gegee het, ook vir jou wil gee. Vertrou nie op prinse en mense nie want jy sal toelaat dat jou denke verduister word.

My Heiligheid is waar, anders sou ek mos nie my volk verlos het van hulle wreede onderdrukkers en die slawe band in Egipte nie. Ek sou nie met enige een bemoeienis gemaak het nie. Die wereld sou baie anders gelyk het …… woes en wreed. Luister na my kind van My hart ….. EK IS DIE GOD VAN GENADE. Hou aan my vas. Dieselfde vinger wat Jesus deur ‘n moordende skare gelei het SAL JOU OOK LEI, AS JY OP MY VERTROU EN GLO.

Ons koningkryk is ‘n blywende koningkryk. Dit is op die sterkste fondasie ooit gebou – gebod op gebod, reel op reel, hier ‘n bietjie, daar ‘n bietjie en gebind met VERTROUE.

Ek hoor dikwels die uitdrukking “Die lewe is soos ‘n skaakspel” wel …………….. die eerste skuif is joune.

Lief vir jou

Pappa Vader


Projekte:

Ons begin warm klere en komberse bymekaar maak vir Projek Winterhoop.  As jy iets het wat jy daarvoor kan skenk, kan jy dit gerus Kerk toe bring op ‘n Sondag en dit onder die trap neersit in die voorportaal, of jy kan dit by die Kerkkantoor aflewer.

‘n Ander projek waar ons maandeliks hulp bied aan mense binne ons eie gemeente, is ons Koskas.  Daar is tans 9 hulpbehoewende gesinne wat ons help met basiese kospakkies.  Dit is gewone ‘oorleef-produkte’ soos rys, suiker, koffie, pasta, mieliemeel, soja, badseep, tandepasta, blikkies kos en toiletpapier…  As hierdie projek vir jou na aan die hart lê, kan jy enige nie-bederfbare produkte op ‘n Sondag in die mandjie in die voorportaal plaas.  Elke blikkie en/of pakkie is welkom.


Let asb. daarop:

  • Die Dames-Tee van 13 Mei (soos aangedui op die Kerk Kalender), is uitgeskuif na 14 Oktober 2023.
  • Op 10 Mei  en 24 Mei is daar geen Bybelstudie nie.

Dit is Pinkster-Tyd !

Op Sondag 21 Mei begin Pinksterweek.

Hierdie jaar open Marileen Steyn ons Pinkster week op die Sondag oggend (om 09H00), en om 18H00 is daar ‘n gesamentlike aanddiens by Moedergemeente.

Dan nooi ons jou uit om elke aand van die week saam met ons te kom kuier om die bybel, en ‘n gratis koppie warm wintersop.  19H00 elke aand van 22 tot 25 Mei, en jy is meer as welkom om net soos jy is, sommer so in jou werksklere te kom. 

Op Vrydag 26 Mei is daar ‘n spesiale diens vir die jeug in ons gemeente om 19H00, en die ouers word ook spesiaal genooi om saam te kom. 

Leave a comment