
Ons is nou in die Lydenstyd. Dit is die tyd in die kerklike jaar waarin ons in die besonder dink aan Jesus wat oppad is na die kruis. Hy is op die lydensweg – die via dolorosa – soos Jan de Wet se lied – die weg van smart en pyn. Die lydenstyd lei dan na Goeie Vrydag en die kruisiging van Jesus. Hierop volg Paas Sondag waar die kerk dink aan Jesus se opstanding uit die dood en sy oorwinning van die duiwel, die sonde en die dood.
Ons moderne mens is nie altyd so vreeslik gemaklik om oor die kruis en die dood en die sonde te praat of te dink nie. Daar is dan soveel mooi dinge in die lewe, hoekom moet mens dan so negatief wees en praat oor daardie dinge? Daar is selfs ‘n koerant in Duitsland wat ‘n artikel geplaas het wat gesê het dat die kruis van Jesus “godslasterlik” is. Die skrywer sê so omdat die kruis vir hom voel na iets wat teen lewensvreugde en die mooi van die skepping praat.
Miskien sou die moderne gelowige ook voel dat mens darem seker nou al by die kruis verby is en dat ons nou eerder moet fokus op die opstanding en die oorwinning. In ons moderne wêreld verstaan ons gewoonlik dat die oorwinning beteken dat ons die lewe moet geniet en nie meer moet worry oor die probleme nie. Dan probeer mens so lekker leef dat jy van die probleme vergeet.
Dit sal natuurlik nie so maklik wees om dit te doen as ons na Jesus se woorde luister nie. Jesus sê in Luk. 9:23-25: “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, elke dag sy kruis opneem en My volg, (24) want elkeen wat sy lewe wil behou, sal dit verloor, maar elkeen wat sy lewe om my ontwil verloor, sal dit behou. (25) Wat help dit ‘n mens as hy die hele wêreld as wins verkry, maar homself verloor of te gronde gaan?
Die weg van die geloof is miskien ook nog vreemder vir die moderne gelowige as wat ons dink. Dit beteken nie net dat jy elke dag jou kruis elke dag moet opneem en vir Jesus volg nie. Dit beteken nie net dat jy jou lewe moet verloor om Jesus se ontwil nie.
Vir die moderne mens vra Jesus iets veel erger as die verlies van sy lewe, Jesus sê vir die ryk jong man in Luk. 18:22: “Een ding kom jy nog kort: gaan verkoop alles wat jy het, en deel die geld aan die armes uit. Dan sal jy ‘n skat in die hemel hê. Kom dan terug en volg My.”
Ds Johann Theron
