
Sjoe, die jaar is al voluit aan die gang. Dit word vertel dat hierdie tyd van die jaar eintlik nogal moeilik is vir mense. Baie mense kom van ’n redelik rustige vakansietyd en met goeie voornemens begin hulle die jaar en dan … loop hulle, hulle vas in die ou probleme van laasjaar en dan … dan lyk dit of baie mense swaar trek. Baie mense verloor al moed vir die jaar sommer vroeg in die jaar.
Ons het in die Week van Gebed gepraat oor enkele gebede uit die Psalms. Anders as wat ons gewoonlik dink, is daar wel plek in die geloof vir kla. Ons vind dit vreemd, want die mense het mos die uitdrukking: “lag en die wêreld lag saam met jou, huil en jy huil alleen”. As mense ook vir ons vra “hoe gaan dit?” dan is ons antwoord mos altyd: “kan nie kla nie” of “wat help dit om te kla?”. Ons sê maar so, want wie gaan in elk geval luister as ons kla? Dit is egter nie waar vir die geloof nie, want die Woord leer ons: “Wees bly saam met die wat bly is en treur saam met die wat treur” (Rom 12:15). Jesus sê ook: “Geseend is die wat treur, want hulle sal vertroos word” (Mat 5:4).
Een van die grootste probleme wat gelowiges het, is die feit dat ons nie eintlik weet of waag om te treur en te kla nie. Ons kla natuurlik oor die kragonderbrekings en die ekonomie ensovoorts, maar ons dink baie keer dat ons nie by God kan kla oor die hartseer in ons harte nie.
In die Bybel is daar ’n hele boek van kla – Klaagliedere. ’n Groot deel van die Psalms is ook klagpsalms. Wat ons egter keer om te kla is die feit dat ons vir God nie altyd mooi verstaan nie. Ons het geleer God is altyd reg en daarom moet ons alles maar net aanvaar. Dit lyk egter of die Psalms nie so van God praat nie. Klaagliedere en die Psalms leer ons om te waag om by God te kla.
Behalwe dat ons dink God is altyd reg, dink ons ook dat ons nooit mag vra “waarom” nie. Omdat hierdie twee dinge so by ons ingeprent is, is dit eintlik onmoontlik vir ons om te kla.
Dit is egter belangrik dat ons weer na die Woord van God gaan luister. In Psalm 44 staan daar:
“Kom ons te hulp! Waarom slaap U, Here? Word tog wakker! Moet ons nie vir altyd verstoot nie! (25) Waarom draai U U rug vir ons? Waarom steur U U nie aan ons ellende en smaad nie? (Ps 44:24-25).
Hier vind ons drie “waaroms” in twee sinne. Broers en susters, ons mag ook vra “waarom”. Ja, natuurlik is ons sondaars en God is heilig, maar ons mag steeds. Ons vra nie “waarom” omdat ons by God iets sou verdien nie, of omdat ons so heilig sou wees dat God ons iets skuld nie. Ons vra “waarom” omdat God beloof het Hy sal die swakke en die weerlose help. Hy het beloof Hy sal help en daarom mag ons vra “waarom”.
Dink maar net aan Jesus wat self gevra het: “My God, my God, waarom het U my verlaat” (Mat 27:46).
Ds Johann Theron
Skyn in jou klein hoekie
Die liedjie wat ons as kinders gesing het, dra vir ons elkeen ‘n boodskap van hoe ons ‘n verskil kan maak in ‘n donker wêreld. Onthou jy die woorde: “Laat ons skyn vir Jesus, Met ‘n helder glans. Skitter soos die sterre, Aan die Hemelkrans. In die donker wêreld; Skyn, daarin, skyn. Jy in jou klein hoekie, En ek in myn.’
Helen Steiner Rice skryf die volgende:
Ons kan nie almal roem verwerf – publisiteit ontvang.
Maar op elkeen, hetsy klein of groot,
Wag ‘n taak van groot belang.
En ons kan dikwels nie besef, of is selfs onbewus,
Wat die omvang, die verreikendheid
Van ‘n liefdedaadjie is.
Want dis nie groot vermaardheid* nie
Nie wêreldroem en eer –
Maar om sonder prys die werk te doen wat God van ons begeer.
Wat elke werk belangrik maak,
Al lyk dit hoe gering,
Wat ons drome en begeertes
In vervulling bring.
Moet dus nie ledig sit en wens dat daar iets moet gebeur
Wat jou daartoe in staat sal stel
Om te doen wat jy begeer;
Net waar jy is, begin te werk – begin onmiddelik
Om die klein ou dingetjies te doen wat ander kan verkwik.
Want, as iedereen ‘n lig versprei
In die hoekie waar hy woon,
Deur aan die siele rondom hom meer liefde te toon,
Dan sal die donker wêreld gou
In heerlikkheid en luister
Die Aandster met sy glansrykheid
OORTREF EN SKOON VERDUISTER.
*Vermaardheid / faam