Maandblad – Januarie 2023

‘n Briefie uit die Bo-Kamer

(Lees Joh. 8:36)

Van van My kinders se grootste verlange is om vry te wees – vry van bekommernis, van knellende slawerny, vrees, en van alles wat hulle aan bande lê

My kind daar sal altyd beperkings wees. Soms moet jy juis sekere grense aanvaar om jou vryheid te beskerm. Een van sulke grense is die wet wat jou verhoed om ander se goed te neem sonder sy toestemming. As jy hierdie reël kies uit vrye keuse weet jy dat jy self ook deur hierdie grens beskerm sal word. Party mense sal jou eerlik noem, maar Ek…. noem jou gehoorsaam.

Kind van My hart so dikwels sien jy selfs nasies in opstand kom om diktators uit die stoel te lig om net weer regeer te word deur ‘n ander een. Dit is belangrik om ander balanserende waardes na te streef, soos regverdigheid, billikheid en respek vir lewe en die grootste grens, ……….. aanspreeklikheid.

Die spanning tussen vryheid en gebondenheid is een van die groot temas in die skrif. Juis uit My Woord wys Ek jou dat satan en sonde jou nie vry maak nie. Dit is juis wat jou bind. Ek het telkens self ingegryp om juis jou My kind te bevry. Fisieke vryheid …… leer uit die voortyd, soos die volk se verlossing uit Egipte en geestelike vryheid, selfs wat My seun Jesus vir jou vandag doen, ……… is juis waarmee Ek jou bystaan.

Kind van My hart onthou net dit: WARE VRYHEID HET MY SEUN VIR JOU GEBRING. Kry jou verhouding reg en weet JESUS VAN NASARET GAAN JOU NOOIT VERBY.

As vandag ellendig is, skep moed want môre sal dinge verander. Doen net eers vandag wat nodig is om môre te help verander.

Maak toe jou oë, rig jou gedagtes……. en luister My Stem as ek vir jou fluister… “Jy is my kind, Ek ken jou….. My aangesig skyn oor jou”

Altyd lief vir jou

Pappa Vader                                                                                                                                             _________________________________________________________________________________

Wat beplan jy vir die Nuwe jaar?

‘n Vrolike en feestelike partytjie?  ‘n Familie samekoms? Gee die nuwe jaar ook vir jou die geleentheid om ‘n nuwe begin te maak?

Of, is dit ‘n tyd om nuwe-jaarsvoornemens te maak wat ons in elke geval na ‘n maand gaan verbreek:  Ek gaan gewig verloor, ek gaan gesonder lewe, ek gaan meer doen vir ander… OK, en dalk as daar tyd is gaan ek …hmmmm vriendeliker wees met ander.  LOL 😊  Die lys kan nogal interressant raak.  Ons almal se lysies verskil.

Ek (me-myself-and-I) weier om nuwe-jaarsvoornemens te maak.

Jip, al vir jare.  Ek doen dit net nie.  Ek glo eenvoudig nie daaraan om beloftes te maak wat ek nie kan hou nie…nie eens aan myself nie.

Ek vra jou maak hierdie jaar tyd om stil te raak… en dink aan jou eie lewe?  Jou verhouding met God?  Waar is jy in die lewe?  Waar wil jy wees?  Wat het jy verloor in 2022?  Het jy dit alles onder die knie?  Kan jy dit alles ‘handle”?

Of voel jy somtyds alles om jou val in mekaar?  Dalk is daar dinge van die ou jaar wat jy wil vergeet.  Dalk dinge wat jy net eenvoudig nie aan wil dink nie.  Dalk is daar dinge wat seergemaak het – diep seergemaak het.  Hartseer.  Alleen wees.  Dalk is jy bang vir die toekoms – die dag van môre.  Dalk het jy hoop êrens langs die pad verloor – hoe gaan ek oorleef… 

Weet dat in Jesus kan jy altyd ‘n nuwe begin maak.  Jy kan Hom altyd vra om saam met jou te stap.  Nooi hom net in.  Dit is nooit ooit te laat nie, en dit is nooit by Hom onmoontlik nie.  Nee, ek praat nie hier van ‘n ou ge-eikte gesegde of preek wat jy al duisend maal gehoor het nie.  (As jy het, is dit goed, want dan het die dominee sy kant gebring.  LOL😊)  Ek praat hier net van JOU.  JY.  Die persoon wat nou hier lees.

Smag jy na vreugde en vrolikheid?  As jy smag na ‘n nuwe begin.  As jy smag na nuwe hoop en lewensvreugde…begin by God

Vergeet van al die “ek kan dit alleen doen”, al die “ek sal dit maak werk”, die “ek is sterk genoeg om”…    en begin met: “Jesus ek kan dit nie alleen doen nie en ek het U nodig in my lewe.”

Help my Here en stap die pad saam met my.  Ek bid Here: hoor my, en ek sing Here soos die lied op die radio:  “Wyl U ander seën, Heiland, Seën nou ook vir my.”

_____________________________________________________________________

Dagboek vir hierdie maand:

  • 19 Januarie                    Kerkraadsvergadering
  • 21 Januarie                    Kategese Beplanning
  • 22 – 26  Januarie           Week van Gebed
  • 29 Januarie                    Oupa en Ouma Diens / Nagmaal
  • 30 Januarie                     Eiendomskommissie Vergader

Ons vra u voorbidding vir al ons vergaderings gedurende 2023. 

_________________________________________________________________

Jaarlikse verlof

  • Ds Johann Theron is met verlof tot en met 15 Januarie 2023.
  • Die Kerkkantoor sal gesluit wees tot en met 16 Januarie 2023.

__________________________________________________________________

Borg ‘n Tafel Projek

Tydens die beplanningstyd voor ons basaar, was daar ‘n stadium wat ons besef het:  ‘ons het te min tafels’

Natuurlik was ons ‘n bietjie in paniek;  maar gelukkig was daar ‘n uitweg.  Vir die toekoms het ons regtig dringend nodig om tafels aan te koop, sodat ons ‘n lekker groot basaar kan hou. 

Nou begin ons ‘n ‘BORG ‘N TAFEL PROJEK’.  Ons werk op ‘n bedrag van R800 per tafel.

As jy kans sien om ‘n tafel vir die kerk te borg, sal ons dit so waardeer.  Miskien ken jy iemand met ‘n besigheid wat vir ons ‘n tafel sal wil borg.  Dalk kan jy en vriende saamspan, of dalk wil jy net ‘n halwe tafel borg – dis ook welkom.  (Ons las dan twee borge bymekaar en siedaar ons het nog ‘n tafel wat ons kan aankoop.)  So alle bydraes, skenkings en borge is welkom. 

Jy kan die geld, of by die Kerkkantoor inbetaal, of sommer direk in ons bankrekening (met verwysing:  “Borg ‘n tafel”.) 

______________________________________________________________________________

Op die weg van ‘n nuwe en mooi toekoms

Tydens die Kerkraadsvergadering van 28 November 2022, is daar belangrike besluite geneem en ons wil u graag op hoogte hou:

1)   Die Kerkraad het besluit om die voltydse predikantspos wat deur Ds Götze gevul was, te sluit. 

2)    Die Kerkraad het ook besluit om die deeltydse predikantspos wat tans deur Ds Theron gevul word, voort te sit.

3)  Die gemeente sal verder gebruik maak van besoekende predikers op sekere Sondae, om sodoende die werksdruk van een deeltydse predikant te vergemaklik.

Indien u enige bystand benodig, is u welkom om die Kerkkantoor te skakel, of vir pastorale hulp direk vir Ds Theron.

Ons weet dat u saam met ons aan die Here se Kerk bou, en saam kan ons ‘n mooi pad stap, positief en vol hoop.  U ondersteuning in hiedie oorgangstyd is vir ons baie belangrik.  Ons stap in geloof en ons volg die pad waar God ons lei, in dankbaarheid en met vertroue. 

Baie dankie.

__________________________________________________________________________________

‘N VOORSPOEDIGE 2023 !!!

Mag 2023 vir ons almal ‘n nuwe jaar vol vreugde en blydskap wees, gevul met Jesus se liefde.

Leave a comment