“Dankie, Here. Amen.”
Toe ek klein was, is ek grootgemaak met die gedagte van eerbied vir die “dienaar” van God, soos my oupa die dominee genoem het. Ons het saans aandgodsdiens oor die radio geluister na ete voor ons as gesin “boeke gevat” het en ek en my sussie mag nie gegiggel het oor die mense wat so trekkerig gesing het nie. Namate ek groter geraak het, het ek bewus geword van teenstrydighede: ‘n dominee wat die sonde op die kansel verdoem, maar sy vrou wat my sussie en haar pastoriemaats agter in die huis leer dans; mense met vroom gesigte op Sondag wat liefdeloos optree in die week, ens. Maar ek sê dankie vir ‘n ouma en ‘n oupa wat kinderlik-gelowig was en waardes vir ons geleer het. In hulle huis het ek geleer dat ons leef uit die genade, ons verdien niks nie; dat ons die liefde wat ons van ons Here ontvang, aan ander moet uitstort; dat geloof ‘n wesenlike deel van ons elkedagse bestaan is. En dat ons almal ‘n dienaar van God is.
En DIT is wat ons hier in Kraaifontein-Noord kom ervaar het.
Jaar vir jaar het ons as gesin, maar ook as gemeente, geleef vanuit God se genade. En as ‘n mens DIT raaksien, is daar altyd iets om voor dankie te sê. Dankie, Heer, vir ‘n huis, al is dit nie ons eie nie. Dankie vir kos en klere, al gaan eet ons nie sommer uit nie. Dankie, Heer, vir geleenthede om met die jongmense van ons gemeente te werk, om hulle in ons huis te verwelkom – ook wanneer sommige van hulle nie vanaand kan huis toe gaan nie. Dankie, Heer, dat ons kon deel wees van die kerk se aktiwiteite: vrouediens, vrouebidure, wegneemetes, basaars, hoenderbraaie, wakkerblygeleenthede, ens. ens. – tot so ‘n mate dat een van ons kinders as tiener gesê het: waarom gaan slaap ons nie maar net almal in die kerk nie, ons is immers altyd daar. (Dankie, Here, dat ons kinders kon leer ons is nie betrokke omdat hulle pa die dominee is nie, maar omdat ons U kinders is – en dat hulle vandag ook vir U dien.) Dankie, Here, dat ons gemeente jaar vir jaar vanuit U genade kon oorleef.
Jaar vir jaar is ons toegevou in die liefdevolle arms van gemeentelede. Ek en Heinrich het in die begin vir mekaar gesê ons wou nooit deel van ‘n magsgroep of kliek in die gemeente wees nie, ons wou toeganklik vir die gewone, plat op die aarde mense wees – en watter voorreg was dit nie! Ek dink aan ons eerste “liefdesmaal” iewers in 1985 toe tannie Lewis al die aartappels vir die mense gemaak het – en later elke Paassondag ‘n pakkie lekkers vir ons kinders kerk toe gebring het. Ek dink aan selgroepbyeenkomste – en ons kinders wat nie kon wag dat dit selgroep moet wees nie (want hulle 10 het vooruit planne gemaak van speletjies terwyl die grootmense geestelik verkeer), maar dit het gemaak dat kerk en kerkaktiwiteite vir hulle lekker was. Ek dink aan pretgeleenthede, sop-etes by die kerk, kuiergeleenthede waartydens ons net onsself kon wees.
Ek onthou hoe ons in kinderlike geloof gebid het vir wat ons ookal nodig gehad het – in ons huis, maar ook in die gemeente. Hoe Maretha Maartens by ‘n Kinderkranskonferensie gesê het ons moet tot op die sent vir die Here vra wat ons nodig het – en hoe ons dit elke keer gekry het. (Ons het mos al oor ons eerste passiespele gepraat.)
In een van die voorgeskrewe boeke wat ek met matrieks behandel het, Manaka Plek van die Horings, worstel die hoofkarakter oor wat geloof is en wanneer hy sy eerste gebed moet bid, is dit slegs: “Dankie, Here. Amen”.
En dit is wat ek na 37 jaar hier in Kraaifontein-Noord wil sê: “Dankie, Here. Amen.”
Want dink ‘n bietjie hoe ryk en omvattend is dié gebed! Met dankie kan ek na my lewe as kind van die Here verwys, hoe Hy my voorberei het vir ‘n lewe in ons wonderlike gemeente met sy wonderlike mense; my huwelik met Heinrich; ons beroep na Kraaifontein-Noord; die feit dat hierdie gemeente vir ons (en ons kinders) ‘n hawe, ‘n skuiling, ‘n slagveld, ‘n oorwinningsveld, ‘n altaar was; ‘n Bethlehem (plek van brood), maar ook ‘n plek waar ons by die krip en die kruis kon kniel. Hier het ons gegroei van grootoogjongmense met meer idealistiese drome as ‘n besef waaroor die roeping gaan, tot gehoorsame kinders van ons Hemelse Vader. Met dankie kan ek ook verwys na elkeen wat my lewe hier verryk het, aan my menswees gebou het … (Ja, liewe leser, jy mag jou naam ook hier invoeg.) Dankie, dankie, dankie …
En dan kom die “Amen” wat vir my beteken: Laat dit so wees. En dink ‘n bietjie waarop ek hier “Amen” sou wou vra: dat geloof, hoop en liefde die fondament van ons gemeente moet bly, dat Christus alles en in almal moet wees, dat dit nie om eie gewin moet gaan nie, maar bo alles tot die uitbou van die koninkryk. En so kan ek aangaan en aangaan …
Ten slotte: my pad van herinnering wat vroeër die jaar begin het, stop nou hier: by ‘n hopie klippe wat ek graag sou wou pak, nie ‘n graf nie, nee, ‘n altaar. Om te bid vir elkeen van julle, vir ons gemeente, vir die toekoms, maar ook vir my en Heinrich.
Dankie, Here. Amen.
-Elmarie Götze-