Ons is nou in Koninkrykstyd. Dit is die tyd in die kerklike jaar van na Pinkster (die uitstorting van die Heilige Gees) tot en met Advent (die afwagting van Jesus se koms). In die Bybel het ons die boeke oor die Konings van Israel. Dit is baie hartseer om te dink dat by meeste van die Konings gesê word dat hulle gedoen het wat verkeerd was in die oë van die Here. ‘n Koning is juis veronderstel om sy onderdane te help en te lei op die regte pad, maar dit het egter baie selde so gebeur. Een van die Konings wat gedoen het wat verkeerd was in die oë van die Here was Agab. Nou volgens enige wêreldse beoordeling was sy regering ‘n tyd van ekonomiese en politieke vooruitgang, voorspoed en vrede. Hy het byvoorbeeld in ‘n politiese verstandige skuif getrou met Isebel die dogter van koning Etbaal van Sidon. Polities was dit ‘n baie goeie ding om te doen. Dit het voorspoed vrede en stabiliteit gebring in die land. Die gevolge daarvoor was natuurlik dat Agab Baal tempels en heilige pilare opgerig het en ook vir Baal begin aanbid het. Nou sou mens net kon wonder of hierdie soort vrede dan nou regtig vrede sou wees.
God het toe by monde van Elia vir Agab gesê dat daar ‘n hongersnood oor die hele land sal kom. Elia moes toe ook vlug en moes maar met kraaikos en water tevrede wees, tot sy stroompie ook opgedroog het. Toe doen God ’n vreemde ding. Hy stuur vir Elia na ‘n weduwee in Sarfat.
Die vrou het net ‘n laaste bord kos en dan vra Elia ook nog vir haar om dit vir hom te gee. Hy sê dat God sal voorsien want die olie in die kruik sal nie opraak nie en die meel in die kan nie minder word nie.
Wonder bo wonder glo die vrou die woord van hierdie vreemdeling en gee haar laaste brood vir die man in nood. Amper soos die vroutjie met die twee munte in die tempel waarvan Jesus gepraat het. Nog meer – die olie in die kruik het nie opgeraak nie en die meel in die kan het nie minder geword nie.
Dit is nogal merkwaardig dat die vrou vir Elia met haar laaste broodjie in die lewe hou en dat hy daarna die hele volk Israel van die Baal-aanbidders bevry.
So vreemd werk die Koninkryk van God. Nie die magtige konings luister na God se Woord nie, maar die heidense weduwee. Hulle name staan nie met lof opgeteken in die Koningsboeke van die Koninkryk van God nie, maar haar geloof staan opgeteken daarin tot in die ewigheid.
1 Konings 17:16 Die meel in die kruik het nie opgeraak nie, en die olie in die kan het nie minder geword nie, soos die Here deur Elia beloof het..
-Ds Theron-

‘n Briefie uit die Bokamer
Uit Ef 4:26-32
Om te vergewe my kind is ‘n wilsbesluit. Jy moet besluit om te vergeef en dan kies om te vergeet. Ek weet dat al die nare herinneringe van verraad, verwerping en mis lyding ‘n manier het om weer jou gedagtes te verswaar. Het jy al ooit gewonder waarom???? Hulle keer terug wanneer jy jou verlustig in ondersoek met ander en innerlik nalaat om die gawes te geniet wat Ek oor jou uitgiet. Hulle is met jou omdat jy voortdurend terugkyk en ontleed.
Ek wil hê dat jy die lewe moet geniet!! Ek wil hê jy moet nuwe vreugdes ervaar en geniet, maar hoe kan jy as jy aanhoudend terugkyk?? Natuurlik het jy agtergekom dat Ek voortdurend afleidings en onderbrekings stuur wanneer jy so besig is om jouself te ontleed. Ek verander jou planne om jou te beskerm teen diegene wat te graag oor die verlede praat. Ek beskut jou …………. elke oomblik, jy vra my immers gereeld. Ek moet jou dikwels teen jouself beskerm. Jy vra dat Ek jou gebroke hart moet heel ….. werk net saam met my en hou op om jouself en ander te ontleed en laat My toe om jou wonde te heg.
Onthou my kind dat die konstante en teer impak wat My teenwoordigheid op jou lewe het, het ‘n manier om “af te gee” op jou. Bietjie vir bietjie, stuk vir stuk sal Wie Ek Is jou bevry om te word wie jy is. Hierdie proses vind op My tyd plaas, bietjie vir bietjie. Ja Ek weet jy wonder hoekom bietjie vir bietjie.
Om dit vir jou eenvoudig te verduidelik wil ek dit so stel: ‘n Geneesheer kan nie ‘n atoombom gebruik vir bestralingsterapie nie!! Hierdie metode sal sy pasiënt vernietig. Daarom is dit vir my noodsaaklik om die regte behandeling vir jou, My belangrike pasiënt toe te pas al dink jy somtyds jy het die krag van ‘n atoombom nodig om die kanker van sonde weg te smelt. Nee my kind jou behandeling is delikaat en in my ervare hande wat genesing waarborg. Het jy gehoor ………. Waarborg. Kom net na My toe met jou stukkende en vertrapte siel. Jy hoef nie te wag vir ‘n afspraak nie want ek ken jou al lankal. Ek is die span dokter IN JOU SPAN, maar ek is ook die spanleier.
Onsterflikheid is jou bestemming My kind. Ek weet presies waar jy jou nou bevind. Ek is meer bewus as wat jy self weet. Dink na oor hierdie waarheid. Ek is EINDELOSE LIEFDE en Ek verleng altyd lewenslyne. Ek sal jou nie teleur stel nie. In jou hart hoor jy My Gees fluister “Soek die aangesig van jou Vader”.
MAAK DAN SO
Nie slegs sal jy my aroma geniet nie maar jy sal voortdurend My geur uitstraal My belofte is ‘n lewe in die werklikheid en heerlikheid van my goedheid. Dit is die rede waarom Ek jou geskep het, dit is die rede van jou bestaan.
Altyd lief vir jou
Pappa Vader