Maandblad – Mei 2022

Hallo almal

In die lydenstyd het ons in die besonder gedink aan Jesus wat die lydensweg moes gaan ter wille van ons. Dit is baie maklik om te dink dat Jesus en ons nou klaar is met lydenstyd, want Hy het dan opgestaan uit die dood.

Dit is belangrik dat ons moet onthou dat die kerklike jaar: Advent (die koms van Jesus), Kersfees (die geboorte van Jesus), Lydenstyd (die lydensweg van Jesus) wat dan oorgaan in Paasfees (kruis en opstanding) en dan Pinkstertyd (uitstorting van die Heilige Gees) en Koninkrykstyd (die bou van God se Ryk), nie verstaan moet word as kronologies d.w.s. dat die menswording van Jesus in Kerstyd afgehandel is in Januarie en dat die kruis en die opstanding nou afgehandel is na Paasfees ens. nie. Die Kerklik jaar is bloot uiteengesit sodat ons in die besonder die hoofmomente van Jesus se lewe kan herdenk. Die geboorte, lyding, kruisiging, sterwe en opstanding van Jesus Christus is alles egter voortdurend teenwoordig in ons geloofslewe. Die werk van Jesus en die Heilige Gees wat dit aan ons vertaal in ons eie lewe en die Vader se heilsplan met die mens en God se Koninkryk bly aanwesig in ons lewe.

As ons egter hierdie verskillende elemente van die lewe van Jesus as afgehandel sien, verdwaal ons maklik in die geloof. So kan ons die geboorte, die menswording van Jesus net in Kersfees gedenk, maar dan vergeet ons maklik dat Jesus mens geword het ’n lyf gehad het en ons siektes gedra het. Ons hou nie op om ’n lyf te hê in Januarie tot November nie. Die troosboodskap van Kersfees is in elke deel van die jaar ook vir ons brose lywe tot troos.

Mens kan ook nie vergeet van Jesus se menswording in die lydenstyd nie, want anders dink mens maklik dat Hy maar net God was en nie regtig die slae en die pyn gevoel het en soos ons werklik pyn voel na ’n operasie of as ons in ’n motorongeluk was of as ons chemoterapie moet kry. Op dieselfde manier kan ons ook dink dat die lydenstyd is verby en daarom moet ons net praat oor die wonderlike opstandingservarings wat ons het. Daarmee vergeet ons ook weer dat Jesus steeds die merke in sy hande en voete gedra het nadat Hy uit die dood opgewek is, toe Hy dit vir Thomas gewys het.

Ons kan eintlik nie van die opstanding praat sonder die kruis nie. Ook nie van vergifnis sonder sonde nie, ook nie van Jesus se menswording sonder sy kruisiging nie. Ons kan nie stukkies uit die Bybel neem en ander stukke vergeet nie. Ons kan nie die geheel van God die Vader, Seun en Heilige Gees se werk maar net opdeel in die gedeeltes wat lekker is of wat ons pas of wat opbeurend klink nie.

Maria se trane by die graf in Joh. 20 praat ook van bitterheid, hartseer, hopeloosheid. Jesus staan voor haar, maar sy sien Hom nie, want sy sien net die lyding en nood. Deur die Heilige Gees roep Jesus vir Maria uit die dood, soos Hy ons uit die dood roep na die lewe. Dit sal in Kerstyd net soveel troos bring as in Paastyd.

Joh 20:15-16  Jesus vra haar toe: “Mevrou, waarom huil jy? Vir wie soek jy?” Sy het gedink dit is die tuinopsigter, en sy het vir hom gesê: “Meneer, as u Hom weggevat het, sê vir my waar u Hom begrawe het, en ek sal Hom daar gaan haal.”  (16)  Jesus het vir haar gesê: “Maria!” Sy draai na Hom toe en sê in Hebreeus vir Hom: “Rabboeni!” Dit beteken leermeester.

-Ds Theron-


_____________________________________________________________________________________________

WATTER PREKE ONTHOU JY NOG?

Deur Elmarié Götze

Brullende motorfietse. Manne behang met kettings oor leerbaadjies. Hare, baarde lank. Selfs ‘n tatoeëermerk of twee. ‘n Jeugdiens een aand. Die jongmense het kerk toe gekom, dalk nie oor die preek nie, maar hulle het kerk toe gekom. Die ouers, ouer mense ook, dalk nie oor die preek nie, maar om die gemeente se sedes te kom beskerm.

Na al die jare onthou ek Heinrich se preek oor die Here se sorg: Soos ‘n hen oor haar kuikens waak, so voel die Here oor ons en hy het in die kindertyd (voor die kinders verdaag het vir Sondagskool) die storie vertel van die mamma Hen wat tydens ‘n brand doodgebrand het. Toe reddingswerkers begin opruim, hoor hulle ‘n piep-geluid en vind die kuikens ongeskonde onder die dooie mamma.

Ek onthou die preek waarin die werking van die Heilige Gees se onsigbaarheid met ‘n mikrogolf verduidelik is – en Heinrich het ons middagete se poeding in die mikrogolf gebak tydens die diens! Natuurlik het kerkgangers hulle verlustig in die aroma van die poeding – en verstaan wat hy probeer oordra het, naamlik dat die Heilige Gees se werking onsigbaar is, want jy kon die effek/gevolge daarvan beleef.

Wie onthou Jan Grey se pinksterreeks? En sy praktiese raad: as ek my kop stamp, sê ek “Dankie Here”. Of ons pinksterreeks in die Stadsaal? (Sit plakkers op klere en goed wat jy vir ‘n jaar of meer nie gebruik het nie en seën ander mense daarmee.)

Watter preke onthou jy? Deel dit met ons.

Vriendelike groete. Tot volgende keer.  

Leave a comment