Maandblad – Junie

Goeie dag

Ek het sedert 1985, omtrent elke oggend wakker geword met die geluid van voëltjies; wat my herinner het aan God se sorg en van God wat weet van my, en met my is. (MATTEUS 10:29-31 NLV “Julle weet dat twee mossies vir ’n skamele sent verkoop word. Tog beland nie een van hulle hulpeloos op die grond sonder dat julle Vader daarby betrokke is nie. Wat julle betref, is elke haar op julle kop getel. Wees daarom nie bang nie. Julle is vir Hom meer werd as ’n hele swerm mossies”), maar in die laaste tyd is dit anders. Hulle moes die groot boom voor ons kamer afsaag (vir my ‘n hartseer saak) want die boomwortels het die buurman se muur laat kraak. Nou is dit so anders: ek word wakker met die geraas van die nasionale pad (N1).  Ja, die geraas van motors en vragmotors wat reeds “vroeg” aan die gang is. ‘n Gejaag na …………ek weet nie waarheen nie.

Op ‘n manier voel dit vir my: so het ons lewe ook verander. Van vroeg af is dit ‘n gejaag na ……..

Is dit nie beter om elke dag te begin met die seker wete dat God met my is en maak nie saak wat vandag met my gebeur nie: ek weet God sal vir my en my hartsmense sorg. Laat my voel “ek is in goeie hande”. Dan lyk my dag sommer anders. Nie waar nie? Probeer dit en jy sal sien.

-Ds Götze-

_______________________________________________________________________________________________

Kraaifontein-Noord is die plek waar jy ‘n veilige hawe vind.

Deur Elmarié Götze

As jong, idealistiese paartjie het ek en Heinrich van die begin af saam by die Jeug ingeskakel. Kinderkrans, TKJA is later gevorm vir gr. 6 en 7, SKJA vir hoërskoolleerders. En ek dink met kosbare herinnering aan mense soos Susan du Toit, Margaret le Roux, Christa Thiart, Doortjie du Plessis, Annette Dippenaar en nog vele meer wat diep spore in kinderharte getrap het.

Met ons eerste wakkerbly – aan die einde van kwartaal 1 – het ek vir die eerste keer beleef hoe jy tafeltennis 4uur in die oggend speel en sien hoe twee balletjies na jou toe terugkom en jy maar moet raai watter balletjie die regte een is. En beleef dat jy een van die min moeë mense is – die kinders se energie het geen einde nie.

Ons het ‘n hele program uitgewerk vir hierdie wakkerbly sodat ons die nag in segmente kon klaarkry. Onder andere pannekoek gebak – en ontdek hoe ure se pannekoekbak binne minute opgeëet word.  Daarna was dit pret om die kinders hul eie pannekoek te laat bak – en ons hou hulle immers so besig en uit die kwaad. Maar o wee, terwyl ek en Heinrich die volgende oggend ons verlore slaap inhaal, ontbied oom Terblanche, die koster, vir oom Kokkie! Want wat maak pannekoek op die kombuiskaste en nog erger, op die preekstoel!

Op ons eerste SKJA-kamp vir hoërskoolleerders was daar presies 15 kinders. Wat ‘n heerlike kamp! Dit was uiteindelik die groep kinders wat later jare die ruggraat van Jeugaktiwiteite sou word (en sommige selfs deel van die Jeugspan wat as mentors vir hoërskoolleerders sou optree).

Binne ‘n jaar of twee het die jeugkampe so groot geraak dat ons vir verskillende ouderdomsgroepe verskillende programme aangebied het. ‘n Kamp wat ons nooit sal vergeet nie is die een in Kleinmond met 92 kinders! Van graad 4 tot en met matriek!  Of die een in Disakloof! Of by Jonkershoek! En by die meeste van hierdie kampe het John en Doortjie du Plessis as kampouers opgetree.  Of Eric en Hanlie Jonker, oom James en tannie Cecilia Albertyn, selfs oom Kokkie en tannie Bettie Swart wat soms saam gekamp het en gehelp het om die kinders in toom te hou.

Wat ‘n voorreg! Dat ons eie kinders tussen gemeentekinders kon grootword, herinneringe opbou en kerk op ‘n positiewe wyse kon beleef.

Tot volgende keer. Mooi loop op jou onthoupad.

Leave a comment