Goeie dag
Ons ken mos nie regtig konings nie. Die naaste aan ‘n koning waarvan ons hoor is koningin Elisabet van Engeland, maar weet eintlik ook maar net dat sy al baie lank regeer en meeste van ons weet ook nie eintlik waaroor sy regeer nie, want daar is dan ‘n regering en parlement wat ook regeer. Interessant genoeg is sy een van die magtigste persone in die wêreld. Sy kan nie vervolg word vir enige misdaad nie. Sy kan letterlik wegkom met moord, want sy is nie net bo die wet nie, sy ís die wet van Engeland. Sy is die hoof van die hof en alle sake begin met die woorde “The queen versus…” en die polisie maak ‘n belofte as hulle polisiemanne word wat sê: “I will well and truly serve the Queen in the office of constable”.
Nou is dit so dat die volk Israel ook gevra het vir ‘n koning, maar meestal omdat hulle nie aan God wou rekenskap gee nie. 1 Sam 8:6-7: Maar vir Samuel was dit verkeerd dat hulle gesê het: “Gee ons tog ‘n koning om oor ons te regeer.” Samuel het tot die Here gebid, (7) en die Here het vir hom gesê: “Gee toe aan die versoek van die volk in alles wat hulle van jou vra. Hulle het jóú nie verwerp nie; hulle het Mý verwerp as koning oor hulle.
Hierdie koning van Israel sou egter onder die wet van God staan, nie bo die wet soos die koningin van Engeland nie. 1 Sam 12:14 staan daar “As julle eerbied aan die Here betoon, Hom dien en na sy stem luister en julle ook nie verset teen die bevel van die Here nie, julle sowel as die koning wat oor julle regeer, sal die Here julle God by julle wees.”
Die hartseer geskiedenis van die konings wat oor Israel regeer het, kan ons sien in die Koningsboeke waar mens die volgende woorde soos ’n refrein hoor oor meeste van die konings: “Hy het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here”.
Ons is nou in die kerklike jaar in Koningkrykstyd. In hierdie tyd dink ons aan Jesus wat sit aan die regterhand van God, nadat Hy die dood oorwin het. Hy regeer nou deur sy Woord en die Heilige Gees oor die hele skepping en ons elkeen wat in Hom glo is geroep tot ridders in sy Ryk.
Ons almal is Jesus se diensknegte, wat soos ridders die opdrag het om die wat swak is te beskerm, die wat verlore is te vind, die weerloses te verdedig en die reg en geregtigheid van God se Ryk te bewaar.
Ons almal is slegs diensknegte van ons Koning Jesus en dit beteken dat ons nie oor mekaar kan regeer nie. Soos Jesus self vir ons dit verduidelik in Mat 23:10-1, “Julle moet julle nie ‘leiers’ laat noem nie, want Een is julle Leier: die Christus. (11) Maar die grootste onder julle moet bereid wees om die ander te dien.”
In God se Koninkryk het Jesus – die Koning van die groot heelal – dan ons voete gewas (Joh 13).
-Ds Theron-
_________________________________________________________________________________________
Ina Marais se Verneukpastei
Deur Elmarié Götze
Ek pak onlangs my gangkaste reg. Sorteer alles en gooi onnodigdhede weg. En kom af op ‘n handgeskrewe resep: Ina se Verneukpastei. En ek glimlag, want daardie resep was aan die een kant vir my ‘n vuurdoop en aan die ander kant die kaartjie na eenwording en aanvaarding by die gemeente se vroue.
Vier jaar na ons by Kraaifontein-Noord ‘n tuiste gevind het, val tannie Bettie Swart by die kerk en breek haar heup. En ek erf skielik die Vrouediens! En ek leer by groot name soos Marie Louw, Ina Marais, Marinda du Toit, Ilse Olivier. Basiese goed soos: as jy vir baie mense kook, is een eetlepel rou rys die porsie vir een persoon, ‘n 1kg pak gevriesde gemengde groente is genoeg vir 16 mense, ens. ens.
Saam met die Vrouediens erf ek die wegneemete-organisasie. Daardie jare het ons vir 450 mense gekook. Met die spyskaartsamestelling stel Ina Marais ‘n verneukpastei voor. Jy maak dit met skaapvleis, maar dit proe soos wildspastei. En jy kan dit in blokke sny vir maklike porsies.
En niemand het vir my gesê as jy ‘n kg skaapvleis kook, bly net 300g gaar vleis oor nie! (Die resep is uitgewerk met gaar skaapvleis.)
Margaret le Roux, Eleena Janse van Rensburg en Ilse Olivier se vrouedienswyke is saam met my verantwoordelik vir die maak van die pastei.
En ek en Heinrich gaan koop vleis en vleis en vleis … en elke keer weeg die vroue hoeveel vleis hulle het nadat dit gekook is … en ons gaan koop weer vleis en vleis en vleis … tot ek skielik besef hierdie vleis gaan ons begroting opeet!
En toe gebeur ons eie “verneukpastei”-resep, want in daardie jaar was beesvleis en volstruisvleis baie goedkoper as skaapvleis. En ek ontdek met beesvleis het jy die helfte van die gewig oor, met volstruisvleis ook, maar volstruis is goedkoper as bees, so ons koop volstruis en volstruis en volstruis. En net Margaret en Eleena (die enigste medepligtiges wat weet) help kook aan dié besendings “verneuk”-vleis. Die ander vroue kook ewe geduldig skaapvleis – wat ver in die minderheid is.
Daardie Vrydagoggend kom ons bymekaar by die kerk met al die gaar vleis, honderde boksies speserye (ek oordryf net ‘n klein bietjie), pakke op pakke koekmeel vir die deeg. Ek en Margaret en Eleena meng so vinnig moontlik al die verskillende vleise in groot sinkbaddens – ons staan op ons knieë met arms tot by elmboë in die vleis (asof ons bid dat die vleis genoeg moet wees). Die ander vrouens maak solank die deeg en pak dit in oondbakke. En kort-kort hoor ek: Die meel is op! en Heinrich word gestuur om nog koekmeel te gaan koop.
Wat ‘n wonderlike resep was dié Verneukpastei nie. Dankie, Ina, na hierdie ervaring was ek een van julle!
(Vir enigeen wat graag dié resep wil hê: wag nog ‘n bietjie tot ek weer een van die gangkaste moet leegmaak, ek weet ek het die resep gebêre, maar onthou nie in watter kas nie!)
Mooi loop op jou eie onthoupad.