Maandblad – Augustus

En so kom ek by die laaste kwartaal van my bediening by Kraaifontein–Noord. En wat ‘n voorreg was dit nie. Dankie dat jy my verdra het .

Vir my voel dit asof die tyd baie vinnig verby gegaan het. Voel soos gister wat ek hier begin het (15 April 1985  – 37 jaar gelede). Nou is dit amper tyd om totsiens te sê.

Prediker 3  sê 3 belangrike dinge oor wat moet ek doen met die tyd wat aan my “geskenk “ is:

  1. Tyd vir jouself (vers 1-3) . “1 Elke ding het sy vaste tyd, elke ding in hierdie wêreld het sy tyd: daar is ‘n tyd om gebore te word, ‘n tyd om te sterwe, ‘n tyd om te plant, ‘n tyd om plante uit te trek”, (vers 1-3). “n Mens kan sê hier word gepraat van  “Getting right with yourself” Dit is wat ons noem “ek-tyd”. Ons het dit baie beslis nodig. Jesus sê: Ek moet my naaste liefhê soos myself. Kyk mooi na jouself.  As jy net aanhou gee, sonder om weer jou “eie bekertjie te hervul” gaan jou “beker leeg raak”.
  2. Wees eerlik met jouself (vers 4-5). “tyd om te huil, ‘n tyd om te lag, ‘n tyd om te treur, ‘n tyd om van blydskap te dans ‘n tyd om klippe weg te gooi, ‘n tyd om hulle bymekaar te maak, ‘n tyd om te omhels, ‘n tyd om weg te bly van omhelsing af, ‘n tyd om aan te skaf, ‘n tyd om te laat wegraak, ‘n tyd om te spaar, ‘n tyd om weg te gooi. Prediker noem ‘n klomp emosies en daarmee wil hy eintlik sê dis hoe die lewe is. Lewe is nie altyd maklik nie. Ek het nie nodig om voor te gee dit gaan altyd goed nie.  Wees eerlik met jouself. Jy mag maar huil en dit is goed vir jou om te lag.
  3. Maak tyd vir die belangrike dinge in jou lewe. (vers 6-8). “tyd om te skeur, ‘n tyd om toe te werk, ‘n tyd om stil te bly, ‘n tyd om te praat, ‘n tyd om lief te hê”. Hier gaan dit oor “Getting right with God” en  oor  “ Getting right with others”. Weet jy die Jode het hulle klere geskeur oor hulle sonde.  Maar as hulle gehoor het, geglo het, bely het, en sondevergifnis beleef het, het hulle weer die klere reg gemaak. Regmaak – tyd. As jy vandag eerlik met jouself kan wees:  ”hoe lyk jou verhouding met die Here?”  Maak asb. ook moeite met ander mense.  ‘n  Mens kan so besig raak dat ek die mense rondom my afskeep. Iets waaroor jy later baie spyt sal wees. Weet jy, jy kan nou ‘n besluit neem om iets positeif hieraan te doen. Wie weet of daar ‘n môre vir jou is.

Dit is goed om altyd te onthou wat Betty Smith oor tyd gesê het: “look at everything as though you were seeing it either for the first or last time. Then your time on earth will be filled with glory”.

“Don’t  spend your precious time asking, ”Why isn’t the world a better place”? It will only be time wasted. The question to ask is, “ How can I make it better?  To that there is an answer”. (Leo Buscaglia)

Ons is nie vir altyd hier nie.  Maar ons het vandag.  Moet dit asb. nie mors nie.

Mag die Here jou seën (nie net op jou verjaarsdag nie, maar elke dag).

-Ds Götze-

_______________________________________________________________________________

EN TOG … ‘N PASSIESPEL

Ek luister ‘n geestelike sangprogram op ‘n Sondagaand en hoor ‘n wonderlike lied met woorde wat min of meer soos volg lui: The world says yes, God says no; The world says stay, God says go. (Ek weet nie wie die sanger was nie; ook nie die lied se naam nie. Die lied het my net aangegryp.) Kort daarna begin die aanddiens en die prediker se tema is: En tog. Ons kyk so vas in mense se persepsies oor ons … en tog het God my gekies. Ons kyk vas in ons omstandighede … en tog het God ander planne.  En die prediker noem karakters van die Ou Testament se tyd tot in die Nuwe Testament wat erge oortreders/sondaars is … en tog het God hul gekies en grootliks gebruik.

En toe weet ek waaroor ons hierdie maand moet stilstaan op die onthoupad. En tog … ‘n Passiespel.

Ons vergeet soms dat die woord “Passiespel” die kwalitatiewe betekenis van “passie” as grondslag het. En dit is presies wat Kraaifontein-Noord se passiespel was.  Jeanne Maritz, ons orrelis, het ‘n idee en geloof gehad. John du Plessis het ‘n teks geskryf. Doortjie en ‘n klomp vroue uit die gemeente, onder andere Willemien, het kom sê: ons kan klere en wat ookal uit goiing maak. Michilina Venter was ons verhoogbestuurder en het baie van die goed self gemaak. John en Wihan Stemmet het middernagure omgesit en die musiek geskep. En so kan ons aangaan en aangaan.

Want sien, ons het geen begroting gehad nie. Zero. En probeer jy ‘n kerkraad oortuig dat jy iets van hierdie omvang sonder ‘n begroting wil aanpak!

EN TOG! Die Here het ons geseën! Mense wat te skaam was om hul mond in ‘n gesprek oop te maak, was akteurs. Die kerkkoor het gegroei tot ‘n massakoor wat die agtergrond met sang ingekleur het. Tydens dié passiespel is ons gemeente se verhouding met die Oorwinningslied verewig.

Ons Jesus-karakter was ‘n probleem. Ons het gebid. En die Here het voorsien in die persoon van ‘n Dawie Roux.

Ons het geld nodig om materiaal aan te koop. Mense kom met skenkings – tot op die sent. Heinrich onthou hoe hy R632 by iemand gaan optel het – en die material wat aangekoop is, het R600 gekos!

Hoe gemaak met die kruisigingtoneel?

Die stadsaal se beligtingbord was ‘n probleem.

Elke keer het ons vir ‘n klein oomblik paniekerig geraak – en elke keer het die Here ‘n EN TOG-oomblik gehad. En ons het geweet: hierdie passiespel is binne die wil van die Here.

Ek onthou hoe ons gemeentekinders saans in die kerk gesit en huiswerk doen het, aan die slaap geraak het terwyl ons oefen. Ek onthou hoe ons skooltake saans na 10uur moes doen omdat daar nie ander tyd was nie. Ek onthou hoe oud en jonk in die gemeente saamgewerk het en toue gestaan het vir oudisies. En skielik het niks anders saak gemaak nie: ons deel die passie om ‘n Passiespel vir ons Heer op te voer.

Al die ure se werk en die bid en planne maak kon ons nie voorberei op die aand van die Passiespel nie. Ja, ons het die Stadsaal gehuur – ‘n geloofsdaad. Ons het besluit ons verkoop nie kaartjies nie!!! Nog ‘n geloofsdaad. Ons gaan ‘n sagte kollekte hou aan die einde van die aand – nog ‘n geloofsoortuiging, want ons doen dit nie vir onsself nie, ons doen dit vir die Here.

En die aand breek aan. En ons senuwees is gedaan. Omtrent die hele gemeente is agter die gordyne versamel – besig met grimering, opwarming, waar ookal jy nodig was. Enkele van ons was buite in die saal. John en sy dogter Eunice het vir ou laas ligte en klank gekontroleer.

En die mense kom. En die mense kom … en die mense kom … En ek laat weet op ‘n stadium vir Heinrich-hulle agter die gordyn: Die saal is vol! En mense kom nog in! Bring stoele. ‘n Stadsaal wat omtrent 2 000  mense kan vat, bars uit sy nate. Ekstra stoele is in die paadjies af gepak.

En ons bring lof aan ons Here. Ons speel en sing en werk ons harte uit. Kindertjies sit op pappas se skouers tydens massatonele en sing saam.

En die passiegangers bly sit aan die einde van ons vertolkings. Hulle wou nie loop nie. Party sit en huil. Ander sit net doodstil. Enkeles begin opstaan en uitloop – verby kollektebordjies wat begin oorloop …

Ons het geen begroting gehad nie. Net geloof. Ons was nie die rykste gemeente of gemeenskap nie. Net lief vir die Here. Volgens menslike verwagting was dit ‘n doodgebore droom, ‘n onrealistiese ideaal.

EN TOG het die Here ons geseën! Aan die einde van die aand het ons, na alles betaal is, alle skulde vereffen is, met ‘n oorvloed van R4 000 gesit.

Mense mag dink ons is net sommer Kraaifontein, ‘n arm gemeente. Mense mag dink ons het iets onbesonne aangepak. Die Here het vir ons gewys: Hy is ‘n EN TOG-God! Hy kan die onmoontlike moontlik maak.

Seën op jou onthoupad.

Elmarié

Leave a comment