Hallo almal
14 April 1985 is ek as predikant in die gemeente bevestig . Ek onthou nog goed dat ek daardie aand uit 1 Kor.15 gepreek het. Ek haal net die laaste 2 verse aan : 57 “Aan God kom ons dank toe – Hy wat aan ons die oorwinning oor die sonde en die dood gee deur Jesus Christus ons Here! 58 Dus, my geliefde broers en susters, staan baie vas, onbeweeglik. Gee altyd julle allerbeste vir die Here se werk, want julle weet voor die Here is alles wat julle doen die moeite werd”. ‘Allerbeste’ en ‘moeite werd’ vang my oog. Wat sal gebeur as jy jou allerbeste vir die Here gee? Miskien moet ‘n mens eerder vra : “Hoekom gee jy nie jou allerbeste vir die Here nie” ?
April is ‘n baie besonderse maand. 14 tot 17 April is Paasnaweek. Ek nooi jou graag om asb. deel te wees van: 14 April (om 7 uur), Donderdagaand voor Paasnaweek; 15 April (9 uur), Goeie Vrydag-Erediens; 16 April (Stil Saterdag) en dan die groot hoogtepunt: Sondag wat sommer vroeg begin – Sonsopkoms geleentheid by die Taalmonument by Paarlberg. Ons ry reeds 05:45 vanaf die kerk. Ek WEET uit ervaring dat dit vir jou en jou hartsmense ‘n besonderse geleentheid sal wees. Indien enigsins moontlik, moet dit asb nie mis nie. Dit gaan regtig vir jou baie beteken. En dan so bietjie later, om 9 uur, is ons Feesgeleentheid by die kerk.
Ek groet jou met die woorde:
NUMERI 6:24-26
‘Die Here sal vir jou goed wees en vir jou sorg. Die Here sal jou raaksien en vir jou sy liefde gee. Die Here sal jou goedgesind wees en vir jou voorspoed gee.’ (NLV)
-Ds Götze-