Maandblad: Maart 2022

Ons begin Maart 2022 met As-Woensdag, wat ook die begin is van die lydenstyd. Dit is die tyd in die kerklike jaar waar ons dink aan Jesus se lyding tot en met Paasfees in middel April vanjaar.

Nou is dit so dat ons as mens nie eintlik so baie hou van lyding en om daaroor te dink en te praat nie. Daarom sê ons ook maar gewoonlik as iemand vra hoe dit gaan: “Kan nie kla nie” of “Dit help nie om te kla nie”. So kners ons maar op ons tande en sluk al die hartseer en probleme wat ons elke dag moet trotseer en glimlag maar mooi en sê: “Dit gaan goed dankie”.

In ons popster kultuur waar voorspoed, geluk en sukses so hoog opgegee word in elke fliek en elke advertensie en elke tydskrif wat ons sien, is daar werklik nie tyd vir kla en huil nie. Oral in ons kultuur hoor ons die woorde: “Pack up your troubles in your old kit bag and smile, smile, smile.”

Die hartseer van ons lewe is dat ‘n groot getal mense op medikasie is net om deur die dag te kom. Die persentasies van mense in Amerika – waar die “American dream” van sukses en voorspoed miskien die duidelikste is – wat op medikasie is, wys miskien iets van die koste van die tande kners en glimlag.

Nou is dit interessant om te sien dat daar ’n hele boek oor kla in die Bybel is – Klaagliedere. As mens sou sê, ja, maar dit is maar net een boek, dan sou mens ook moes wys daarop dat daar ’n groot hoeveelheid Klaagpsalms ook in die Bybel is.

Sou ons moontlik kon kla by God? Miskien sou mens in ons lewe moes sê dat ons eintlik nog net kan kla by God – want niemand anders lyk dit my luister meer nie. Hulle praat net oor die lekker tye en die wonderlike ervarings.

Die Bybel klink amper vreemd vir ons ore wat net sukses soek as ons lees in Ps 77:3-4: “In my nood soek ek hulp by die Here; ook in die nag bly my hande in gebed uitgestrek sonder om moeg te word; maar ek vind geen troos nie.  (4)  Ek dink aan God en ek sug, ek dink na en ek is verslae.”

Miskien sou Jesus se gebed in Getsémané ook so gewees het in Luk 22:44: “Hy het in doodsangs geraak en het nog ernstiger gebid. Sy sweet het soos bloeddruppels geword wat op die grond val.”

Dalk pas hierdie woorde nie in ons sukses lewe in nie, maar miskien moet ons net bietjie rondom ons kyk.

-Ds Theron-

Leave a comment