Maandblad – Januarie 2022

’n Nuwe jaar! Nuwe voornemens? Nuwe probleme?

Miskien is dit vir ons nogal moeilik om nog genoeg moed te hê, om te hoop op iets nuuts. Miskien het ons al so oud geword dat ons moeilik nog kan dink dat iets nuuts kan gebeur. Ons vorige drome van ’n nuwe jaar het ons dalk al geleer dat dit maar net nog iets is wat ons sal teleurstel. Ek hoop ek kry ’n nuwe werk. Ek hoop my baas sal my beter hanteer. Ek hoop my verhouding sal weer nuut kan word. Ek hoop …. ek hoop…

In die Griekse mitologie vind mens vir Janus – dit was die Grieke se god van begin en die einde. Hy is dan ook uitgebeeld as iemand met twee gesigte – een wat terugkyk en een wat vorentoe kyk. Janus beteken dan ook ‘deur’. Dit is ook nie verniet dat Januarie na hierdie god vernoem is nie. Dit is die oorgang van die vorige na die volgende jaar.

Janus kan met sy twee gesigte moontlik in twee rigtings tegelyk kyk, maar vir ons is dit nogal moeilik. As ons die nuwe jaar ingaan deur slegs terug te kyk – sal ons ons dalk disnis loop teen die volgende jaar. As ons egter net vorentoe kyk, sal ons moontlik weer blindelings die toekoms in sonder om te verstaan dat die verlede deel is van ons.

Ons is in die begin van die jaar op ’n moeilike plek. Baie dinge wat agter is, wil ons ontvlug, soos Job uit Ninive en as ons terugkyk sal ons versteen. Maar as ons net vorentoe kyk en soos die volk Israel, van God se wil vergeet, sal ons verdwaal raak in die nuwe jaar soos die volk in die woestyn.

Dalk moet ons eerder gaan raad soek in God se Woord:

Openbaring 22:12-13 Jesus sê toe weer: “Kyk, Ek kom gou! Ek bring die loon saam met My om elkeen te beloon vir wat hy gedoen het.  (13)  Ek is die Alfa en die Omega, die Eerste en die Laaste, die Begin en die Einde.

Joh 14:6  Jesus het vir hom gesê: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie.

Ons hulp is by die Alfa en die Omega, die Eerste en die Laaste – die Begin en die Einde – die Een wat is en wat was en wat kom – die Almagtige.

As ons die Weg en die Waarheid en die Lewe het, wat langs ons loop – Jesus Christus, wat ons deur die Gees van die Waarheid – die Trooster – lei die toekoms in, dan hoef ons nie so te koes vir laas jaar of weg te kruip vir die nuwe jaar nie. Dan kan ons met die oë gevestig op Jesus Christus die nuwe jaar tegemoet loop.

-Ds Johann Theron-

Leave a comment