Sowaar die tweede maand van 2022. Ek het gewonder: “wat is belangrik in jou lewe?”. Vir Josia (‘n mens kan sê : dit was sy afskeidsboodskap aan die Volk) was dit belangrik om vir die volk vir wie hy omgee, te sê : Josua 24: 14 “Betoon dan nou eerbied aan die Here en dien Hom met opregtheid en met trou. Sien af van die gode wat julle voorvaders anderkant die Eufraat en in Egipte gedien het, en dien die Here. 15 Of, as julle dit nie goedvind om die Here te dien nie, kies dan vandag wie julle wil dien: die gode wat julle voorvaders gedien het anderkant die Eufraat, of die gode van die Amoriete in wie se land julle woon. Wat my en my familie betref, ons sal die Here dien.”
Ek hoor in die laaste tyd mense sê vir mekaar : “Kyk mooi na jouself”. Dit hoor ‘n mens mos ook in Josua se woorde. 1) Begin met selfversorging:”wat my betref”. Ek sal (besluit/keuse) die Here dien. Mag ek vra: “hoe is jou eie geestelike versorging”. 2) En dan sê hy op ‘n manier: ek sal mooi kyk na die mense vir wie ek lief is. “En wat my familie betref, ons sal die Here dien.” As jy ‘n ouer is: herinner ek jou graag aan ‘n belofte wat jy destyds by jou kind(ers) se doop aan God gemaak het nl. om self jou kind te vertel van die Here en…… te laat onderrig. Dit praat mos van bring na die katkisasie (Sondagskool) en saam kerk toe kom. Mag ek vir jou vra om asb. mooi na jouself en na die mense vir wie jy lief is, te kyk (eintlik bedoel ek mos dat jy iets hieraan sal doen). Ek dink dit is belangrik !
Dit is ook vir my belangrik om vir jou te sê : “Die HERE is lief vir jou”. By HOM is jy baie welkom.
Ek wil jou graag ook herinner aan ons gemeente Basaar op 5 Maart by die kerkgebou. Ons benodig mense, wat vir kort tydjies ( 15 minute ) by die tafels kan help. As jy kan, gee asb. jou naam deur na die Kerkkantoor (021 9883384). Ons soek veral hulp by die pannekoektafel. As jy iemand is wat dinge soos konfyt, groente, vrugte ens. inmaak, dan sal ons graag met jou in aanraking wil kom (gee groot asb. jou kontaknommer aan die kerkkantoor).
My seënwens vir jou is : Ek wens jou genoeg. Mag jy beleef dat GOD se genade elke dag vir jou genoeg is!
Lied 269
God bly met jou, waar jy ook mag gaan. Mag sy Gees jou lei en heilig en jou altyd deur beveilig. God bly met jou, waar jy ook mag gaan.
Mooi dag.
-Ds Götze-