Ek weet nie van jou nie, maar ek hoor gereeld mense (oud en jonk) sê : “ek is moeg”. Ja, dit was ‘n anderse jaar. Daarom hoop ek van harte dat ook jy in die tyd wat kom, ‘n tyd vir jouself sal kry (‘me-time’, waar jy nie net gee nie, maar ook kan ontvang). Kom ons noem dit “versorgings-tyd”. Maar ons het meer as dit nodig. Veral hier rondom Kerfeestyd, nooi ek jou uit om tyd te maak om te dink aan: “waarvoor is ek dankbaar”. Kom ons noem dit ons “waarderings-tyd” (want 2021 was nie net ‘n moeilike tyd nie). As dit enigsins moontlik is, kom ons MAAK ook tyd vir mekaar. Want ons het mos ook in die afgelope tyd geleer: “ons is net aan mekaar geleen”, “en wie weet of daar ‘n môre gaan wees”. Kom ons noem dit “kwalittyd” (en, ja ek het dit doelbewus verkeerd gespel). Kersfeestyd is mos ook “omgee-tyd”.
So was dit ook van die begin af. Ons lees in Lukas 2: 8, “Daar was skaapwagters in daardie omgewing wat in die oop veld gebly en in die nag oor hulle skape wag gehou het. 9 Meteens staan daar ‘n engel van die Here by hulle, en die heerlikheid van die Here het rondom hulle geskyn. Hulle het baie groot geskrik. 10 Toe sê die engel vir hulle: “Moenie bang wees nie (OMGEE-TYD), want kyk, ek bring vir julle ‘n goeie tyding van groot blydskap wat vir die hele volk bestem is. 11 Vandag is daar vir julle (“VERSORGINGS- TYD, vir jou ) in die stad van Dawid die Verlosser gebore, Christus die Here! 12 En dit is vir julle die teken: julle sal ‘n kindjie vind wat in doeke toegedraai is en in ‘n krip lê.”13 Skielik was daar saam met die engel ‘n menigte engele uit die hemel wat God prys en sê: 14 “Eer aan God in die hoogste hemel,en vrede op aarde vir die mense in wie Hy ‘n welbehae het!”(WAARDERINGS-TYD) 15 Nadat die engele van hulle af weggegaan het na die hemel toe, sê die skaapwagters vir mekaar: “Kom ons gaan reguit Betlehem toe om te sien wat gebeur het, soos die Here dit aan ons bekend gemaak het.”(DOEN-TYD).
Namens die dominee’s (ook van Elmarie en Hanlé), die Kerkkantoor, Kerkraad en Dienswerkers wens ons vir jou ‘n Geseënde CHRISTUS-fees.
Kersfees kom, Kersfees kom – gee aan God die eer.
Skenk ons ‘n helder Somerkersfees in hierdie land, o Heer.
_________________________________________________
Aan God al die eer.
As jy kan getuig van Jesus se dade en liefde in jou lewe, wil jy dit nie met ons deel nie? Jy kan jou getuienis stuur na: ngnoordkerk@gmail.com (Elmari JvR) en meld as jy dit anoniem wil hou. Ons plaas dit dan in ons Maandblad en dalk gee jy sodoende vir iemand anders ook hoop.
____________________________________________________