Maandblad – November 2021

Ons leef in ’n baie verwarrende tyd in ons kerk. Daar is baie stemme oor baie sake. Dan kry ons nog baie stemme van buite of op ons fone wat ons baie keer meer verwar as wat dit vir ons help. In ’n tyd wat nogal besonder ingewikkeld is, is dit goed dat ons mekaar herinner aan dit wat ons bely. Ons het onlangs ’n nuwe lidmaat in die gemeente ontvang wat Belydenis van geloof afgelê het.  Ons moes die Belydenisaflegging van ons Graad 11 jongmense uitstel, maar hoop om dit nog hierdie jaar in Desember te doen.

Die Belydenis wat ons elkeen voor God en sy gemeente afgelê het, is beslis iets wat ons rigting en vastigheid onder die voete kan gee in ’n tyd waar die winde in alle rigtings – en soms voel dit – alle rigtings tegelyk waai.

In ons kerk is daar vrae oor die selfdegeslag verbintenisse. Die Sinodale besluite het allerlei ander vrae na vore gebring en mense hoor van liberalisme en fundamentalisme. Groot woorde. Daar is mense wat voel dat die kerk begin afwyk van sy Belydenis en mense lees die Bybel op verskillende maniere oor dieselfde sake. Daar is vrae oor die opstanding en vrae oor die bose en vrae oor die mens en sy vermoëns. Daar is sprake dat Sinodes op grond van sommige van hierdie vrae weer sou opdeel in aparte Sinodes en selfs dat gemeentes onderling moet groepeer n.a.v. elke spesifieke gemeente se beskouing van enkele van hierdie sake.

Hoe sou die belydende lidmaat van die NG Kerk moet oordeel oor al hierdie dinge? Ons moet herinner word aan dit wat ons bely het voor God en sy gemeente met ons Belydenisaflegging:

Glo jy dat die leer soos in die Ou en Nuwe Testament en in die belydenisskrifte van ons kerk vervat is, en in die gemeente hier geleer word, die ware en volkome leer van die verlossing is?

Beloof jy om as lidmaat van die gemeente van Christus deur sy genade in die belydenis van dié leer tot die einde van jou lewe te volhard en alle leringe wat daarvan afwyk, te verwerp… ens.

Hierop het elke lidmaat voor God en die gemeente “Ja,” geantwoord. Ons bely Jesus Christus, soos God Hom deur sy Gees aan ons openbaar het, in sy Woord. Maar ken ons nog die Woord en ons Belydenisskrifte waaraan ons ons verbind het? Al eenheid en vaste grond onder ons voete in die storms is die Woord en ons Belydenis.

Efesiërs 4:13-16 –  So sal ons uiteindelik almal kom tot die werklike eenheid in ons geloof en in ons kennis van die Seun van God. Dan sal ons, Sy kerk, soos ‘n volgroeide mens wees, so volmaak en volwasse soos Christus.  (14)  Dan sal ons nie meer kinders wees nie; ons sal nie meer soos golwe op en af en heen en weer geslinger word deur elke wind van dwaalleer as vals leraars ons met hulle slinksheid en listigheid op dwaalweë wil wegvoer nie.  (15)  Nee, ons sal in liefde by die waarheid bly en so in alle opsigte groei na Christus toe. Hy is immers die hoof, (16) en uit Hom groei die hele liggaam. Die verskillende liggaamsdele pas by mekaar en vorm saam ‘n eenheid. Elkeen van hulle vervul sy funksie, en so bou die liggaam homself op in liefde.

10 Woorde met krag

Genade, Geloof, Troos, Vrede, Hoop, Liefde, Waarheid, Vergifnis, Eerlikheid, Inskiklikheid

Genade

‘Vir baie mense is die kragtigste woord in die Bybel, die woord genade.  Daarvoor kan of hoef jy nie te werk nie.  Die Here het vir Paulus gesê:  “My genade is vir jou genoeg.  My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.”  (2 Kor 12:9).  Dit is opmerklik dat die laaste teks in die Bybel so lees:  “Die genade van die Here Jesus sal by almal wees”.  (Op 22:21).’

Geloof

‘Geloof is nie iets wat jy kan ontwikkel nie;  God het dit in jou geplant sodat jy dit kan gebruik om jou lewe te rig op iets of iemand waarop jy volledig kan staatmaak.  “Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie.” (Heb 11:1).  Geloof stel jou in staat om 100% op God te vertrou vir dit wat jy vandag nodig het en vir dit wat jy in die lewe hierna nodig het.’

Troos

‘Niemand kan jou troos soos ‘n ma nie.  In Jesaja 66:13 staan geskryf:  “Soos iemand wat deur sy moeder getroos word, so sal Ek julle troos…”  Die Heilige Gees word ook die Trooster genoem, want Hy is soos ‘n ma wat jou wil help in nood.  Mense wat sonder die Here lewe, verkeer in die grootste nood.  Die beste nuus lees ons in God se troosboek, die Bybel:  “Dit is my troos in my ellende, dat u belofte my in die lewe hou”  (Ps 119:50)’

-BybelMedia-

____________________________________________________

Dit Is Eksamen Tyd !

Ons wens al die studente voorspoed toe met die Matriek eksamens.  Skryf lekker en onthou dat jy nie alleen is nie. 

Positiewe denke, kweek positiewe resultate.

  Gee net jou beste.

       10 Desember 2021 is dit weer tyd vir Kruiskuier en almal is welkom om sommer net saam te kom kuier. Vergeet vir een aand van jou sorge en kom lag en gesels saam met vriende.

Plaas nou jou bestelling by die Kerkkantoor voor 23 November: 

Tel. Nr.:  (021) 988-3384

@ Slegs R50.00 per ete

Menu 

Hoender Bobotie

Wit Rys

Groentegereg & Soetwortels

Malvapoeding & Vla

____________________________________________________

Kan jy getuig van God se liefde en genade?

Ek het in my lewe al tye beleef wat ek gevoel het ek weet nie meer waarheen nie.  Daardie ‘teen-die-grond’ tye en ongelooflike diep-hartseer tye.  Dit is ook die tye wat die Here my gedra het en wat die Heilige Gees alom teenwoordig was in my lewe.  Ek kan getuig.  Wanneer jy op jou laagste is, wanneer jy voel asof jou lewe uit mekaar skeur, wanneer jy voel asof alles uit mekaar ruk van seer, rou seer;  onthou die Heilige Gees is in jou en met jou. 

As jy ‘n getuienis het wat jy kan deel met ander, kom gee dit vir ons by die Kerkkantoor.  Jy kan dit annoniem instuur, maar deel dit wat jy ervaar het.  Kom ons vertel mekaar van die Here se wonderwerke, van Sy sorg en Sy liefde.

Elmari JvR

Jy kan jou getuienis stuur na:  ngnoordkerk@gmail.com  en meld of jy dit anoniem wil plaas of jou naam daarby gepubliseer kan word.  Dan deel ons dit met ander in die volgende Maandblad en gee dalk sodoende vir iemand anders ook hoop.  Wie weet dalk is ons maandblad volgende maand 12 bladsye lank van almal se wonderlike getuienis. 

___________________________________________________________________________

Leave a comment