Goeie dag
Mense sê gereeld vir my ( en dalk vir jou ) : “Kyk mooi na jouself”. En ten spyte van al ons voorsorg voel ons kwesbaar en broos. Ons almal ken mense wat “versigtig” lewe en tog positief vir Covid 19 getoets het. En as ons eerlik is : ons verstaan nie regtig die siekte nie, want somige mense is minder siek as ander. En ander word in die hospitaal opgeneem. En baie mense gaan dood. ’n Mens voel so uitgelewer( jy kan ook nie sê “dit gaan nie met my gebeur nie”). Ek dink, in ‘n tyd soos hierdie, kan Psalm 40 vir ons rigting gee. As ons die Psalm wil opsom:
ONTHOU – Vers 2-6: Die psalm-digter dink terug aan sy vorige ervarings van redding en sorg van die Here en getuig daarvan ( en praat daaroor) in die geloofsgemeenskap – ons kan dit gerus ook doen. Laat my dink aan ‘n dankie-sê lysie.
TOEWY – vers 7-11: Hy dink aan wat hy van God weet – dat Hy gehoorsaamheid wil hê. Vers 9 is ’n kosbare verwoording van die geloofslewe: “Om U wil te doen, o God, is my een begeerte, U woord is my hele lewe. Augustus-maand is juis Bybelmaand. Ek wil jou nooi om saam met my, in hierdie maand Efesiërs deur te lees, en miskien met jou huismense daaroor te gesels.
Vra – vers 12-18: Om jou behoefte in elke detail aan die Here bekend te maak en jou verwagting te stel in sy ontfermende karakter. Veral vers 12 staan vir my uit: “Moet my tog nie uitsluit van u ontferming nie, Here, laat u liefde en trou my voortdurend bewaak. Bewaak is vir my ‘n trooswoord. Want as die Here my so bewaak is ek mos in veilige hande . Rom 8 sê dit so mooi : niks ( ja, net mooi niks) kan my skei van die liefde van die Here nie. (Terloops: vers 14-18 van Psalm 40 kom ook in effens gewysigde vorm as ‘n aparte Psalm voor, Psalm 70, waarskynlik aangepas om as ‘n kort skietgebed in ‘n krisis gebruik te word).
Mag die Here jou seën met wat jy nodig het. Totsiens tot volgende keer.